Thursday, April 24, 2014

Nog 'n dag

Dis nou al drie weke dat hy nie bel nie. Nou sit ek my foon af, ek wil hom bietjie straf. Hoe kan hy net so verdwyn sonder om my ten minste te waarsku voor die tyd? Ek dog hy sal twee dae op die meeste weg wees. Nou is dit al drie weke en die oproepe raak al hoe minder en minder. Ek het gistraand gedroom dat hy my verneuk, kan jy dit glo, toe ek wakker word was ek in ‘n baie slegste bui. Toe ek op my bed gaan sit, toe begin ek net te huil en huil, dis as of dit net uitgestroom het van ‘n geheime rivier binne my maag wat ek nie geweet het bestaan nie. Ek’t toe natuurlik heeltemal ingegee en my oe uitgestort vir ‘n goeie tien minute totdat ek in die spieel gekyk het. My oe was bloedrooi en baie geswel, en die trane het mooi oor my wange gegly, toe dink ek aan daai handjie vol mense wat mooi lyk as hul huil. Die gedagte het my sommer laat vergeet hoekom ek gehuil het in die eerste plek, ek weet nie eers of daar regtig ‘n eerste plek was nie. Inelkgeval, die bui was weg en ek’t vir ‘n paar sekondes bietjie simpel gevoel en toe die badwater begin intap.

In die bad le ek en dink toe aan al die dinge wat vandag moet gebeur. Dis altyd die ritueel in die oggend, ook ‘n goeie manier om jou dag sleg te begin. Ek het baie resepte vir dit, nog een sal wees om onbewustelik suur melk in jou morekoffie te gooi of om te verslaap, dit doen ek gereeld. Ek voel die laaste ruk net lus vir slaap, dit beteken gewoonlik ek’s ongelukkig of alleen of gestres. Ek vat vrek lank om aan te trek, dit vat lank om ‘n goeie pakkie aanmekaar te slaan. Ek gaan laat wees vir werk as ek nie gou maak nie, ek gryp my skoene, gooi dit in my oorgroot sak en terug by die speel smeer ek lipstick aan, asook mascara, daar’s nie tyd vir die hele toetie nie en lipstick wat donker is maak gewoonlik op vir die res. Ek gryp my tas en in die kar ry ek oppad werk toe.

Lyk of elke flippen robot my vandag gaan vang. Ek’s so emosioneel vanoggend, wonder of gewone mense vir ‘n rooi robot emosioneel raak. Ek kyk na my linker hand se ringvinger en wonder of die man my nou binnekort gaan vra om te trou of nie. Ons het al baie daaroor gepraat, ek moet seker maar net bietjie geduldig wees. Ek wonder hoe hy my gaan vra? Ek druk die gedagte vinnig terug in my kop, ek’s mos kwaad vir hom, wanneer hy my eendag wel gaan bel beplan ek om eers nie te antwoord nie en darna baie bot te wees.

Uiteindelik is ek nou hier by die werk. Ek’s amper by die deur toe ek moes terug hardloop kar toe vir my boeketas. Ek’t gisteraand tot wie weet watter tyd gewerk aan die voorlegging, ek weet dit gaan sommer goed gaan. Ek stap in die gebou in en die sekretaresse kyk my aan as of ek mal is, ek’t nog nooit van haar gehou nie. Wie gee haar dan nou die reg om my vreemd aan te kyk, ek’s nie die eerste persoon om vyf minute laat te kom vir werk nie. Seker een van die “prim and propper” tipes.  “Goeiemore!” “Goeiemore Fiela, kan ek vir jou ‘n koffie bring?” Dis mos nou baie beter. Ek knik my kop en gee ‘n halwe glimlag. Ek kom bo in my kantoor waar my lessenaar die mooiste ruikers op het, dis darem een positief vir die dag. Ten minste lyk my kantoor nie so vaal soos gewoonweg nie. Ek het wel die mooiste portret agter my lessenaar, dis van ‘n kosmos veld wat een van my universiteitsvriendinne vir my geskilder het. Dit laat my altyd dink aan ‘n spesifieke naweek in my tweede jaar, ons het almal lukkraak besluit om die naweek warmbad toe te gaan, dit was net voor ek hom ontmoet het, hy en twee van sy vriende het deurgery vir die saterdag. Dit was darem maar goeie tye.
Ek antwoord ‘n paar eposse voordat Ciska, my assistant, inkom met my boodskappe.
“More Ciska”. Ciska lyk as of sy teneergedruk is, sy en haar ma baklei vreeslik, ek neem aan dis dit. Ek gaan ook nie vra nie, laas toe ek vra was sy so in ‘n toestand dat ek haar moes huistoe stuur. “Jy lyk nie goed nie, wil jy nie maar huis toe gaan nie.” “Wat bedoel jy?” My oe is seker nog rooi van vanoggend. Maar nogsteeds, dis eintlik nogal erg ongeskik van haar. “Jy kan maar gaan, los maar my boodskappe agter, ek sal self daardeur lees.”

Uur na uur gaan verby, werk vandag is darem vervelig, ten minste is dit amper etensuur. Half een is hier, ek gaan sommer gou its gaan kry by die kaffeteria. Ek stap af by die trappe, niemand stap verby my nie, nou voel ek nogal alleen. By die kaffeterie help die kombuistannies my oorvriendelik. Ek kry selfs ‘n gratis sappie, lyk my vandag is toe nogal ‘n  goeie dag. Ek sit alleen by een van die tafels. Ek eet nie so gereeld hier onder nie maar sjoe iemand kan darem by my kom sit het.  Ek staan op om my oorblyfsels in die drom te gooi. Net toe ek omdraai stap ‘n haastige man sumier in my vas en alles val, ook die sappie oor my klere. “Jou idioot! Is jy blind?” Hy kyk my verbuisterd aan as of ek mal is. Nog iemand met wat vandag daai uitdrukking dra. “Gaan jy nie eens  jammer se nie?” Pieter kom aangestap, dis my baas, hy roep my nader en vat my om die arm. Hy lei my op na sy kantoor.

“Fiela, hoe gaan dit met jou?” Hy wys vir my dat ek sit. “Dit gaan goed.” Hy kyk na my as of hy wil he ek moet uitbrei. “Wel, ek het seker nou geoorreageer, ek sal gaan jammer se.” “Dit sal nie nodig wees nie.” Ek dog dan ek is hier om onverskoning te vra. “Is daar nog its Pieter?” “Fiela, hoe slaap jy?” “Ek weet ek lyk nie baie goed vanoggend nie, ek slaap eintlik deesdae sleg. “ Hy lyk onfermend, ek en Pieter ken mekaar al baie lank, ek weet hy vra sulke vra as ‘n vriend en nie as my baas nie. “Ek dink dis tyd vir  bietjie verlof Fiela, moenie bekommer nie dis betaalde verlof, hoekom gaan jy nie ‘n bietjie see toe nie. Jou ouers het mos ‘n huisie daar.”

Betaalde verlof? Ek weet darem nie. Dis nou al amper die einde van die finansiele jaar, ek’t drie groot kontrakte wat ek nie kan los nie. Maar Pieter het gese dit sal okei wees, ek is nogal uitgeput. Hy’t sommer gese ek moet vandag huistoe gaan. In my kantoor klop Ciska weer. “Fiela, jou afspraak is in 45min, jy weet hoe lank dit jou neem.” “Skies, watter afspraak praat jy van? Is my voorlegging nie nou enige tyd amper nie?” Sy’t my verloor. “Jou sielkundige afraak.” Sy’s dadelik uit die deur uit. Ek kyk vlugtig in my dagboek en daar is geen voorlegging vir vandag geskeduleer nie. Ek moet seker my datums verkeerd he. Ek dink dit sal eintlik lekker wees, Annietjie is altyd so behulpsaam, miskien kan sy vir my ietsie voorskryf vir die slaaploosheid.

By die spreekkamers groet die ontvangsdame vriendelik. “Hoe gaan dit vandag?” “Goed dankie, en self?” “Goed jong, Annietjie is reeds reg vir jou. Ek stap in die kantoortjie, Annietjie sit reeds op haar stoel. Sy’s darme maar ‘n pragtige vrou. “Hallo Annietjie.” “Fiela, sit asseblief, jy lyk gedaan.” As een persoon nog iets gaan se oor hoe sleg ek lyk...” Ek klink nou seker bietjie ongeskik maar met Annietjie is ek heel op my gemak. “Se baie mense dit vir jou?” “Ja, al heeldag. Ek slaap nie baie goed nie. Ek droom nagmerries. Gisteraand het ek gedroom my kerel verneuk my. Ek was so ontsteld vanoggend dat ek eers ‘n ruk lank gehuil het. Ek droom elke aand so iets dan die hele dag is ek so emosioneel. Ek’s boonop so kwaad vir hom. Ek hoor niks van hom nie. Jy weet mos hy’s weg?” Annietjie kyk neutral na my. “Dit is so Fiela. Kan jy onthou waaroor ons gister besluit het?”  “Gister se sessie, ek kan nie eintlik onthou waaroor ons besluit het nie.” “Laat ek jou geheue verfris. Ons het besluit dat jy gaan aanvaar wat met jou gebeur het.” “Reghardt het verongeluk, amper al drie weke terug. Hy ignoreer jou nie. Hy bel jou nie , nie aspris nie. Hy’s weg Fiela.” Annietjie se skouers sake bietjie en sy skyf haar stoel nader aan my. Ek hou nie daarvan nie. “En elke dag as jy hierheen kom dan moet ek dit vir jou se, jy onderdruk wat gebeur het. Dis waarom almal jou so vreemd aankyk, hul weet wat met jou gebeur het. Dis waarom mense by die werk so geskok is om jou te sien, jy gaan elke dag in maar die dag voor dit vertel Pieter jou om op verlof te gaan. Dis waarom jy nagmerries kry en dis waarom jy heeltyd emosioneel is.” Die knop in my keel raak so dik dat my sluk seer is. “Ek is jammer as jy dink dat ek baie kras en onsensitief is, maar jy moet een of ander tyd aanvaar.”

Die rit huistoe het verskriklik lank gevoel. Ek kan nie eers onthou wat alles vanoggend gebeur het nie, of alles wat Annietjie nou vir my gese het nie. Hy’s weg. Die idee daarvan maak my naar. Ek het nie ‘n keuse as om aft e trek vir ‘n paar minute. My maag voel daarna bietjie beter. Ek trek my kar in die motorhuis in en stap die huis in om vir my aandete voor te berei. Die huis is so kaal en lelik ieweskielik, ek haat eintlik hierdie plek. Jy weet mos as een ding breek dan begin alles te breek. Dit was eers die geiser en toe die stoof, daarna het alles begin ingee. Ek moet ook elke aand my slaapkamer lig vervang, seker een of ander kortsluiting. Ek klim op die stoel om die gloeilamp te ruil. Na aandete maak ek vir my ‘n koppie tee en gaan sit voor die tv. Ek kyk die nege uur nuus en daarna gaan ek deur die kanale opsoek na ietsie wat bietjie opbeurend sal wees.

Ek was my gesig, borsel tande en klim in my bed. Die lakens lyk as of dit nou net gestryk was terwyl ek in die bed le. Dit voel te netjies. Nou le ek op my rug en staar na die dak. Het Reghart seer gehad? Was hy bang” Al die vrae, ongeantwoorde vrae maal deur my kop. Die laaste gedagte voor ek weggesak het in my droom wereld  was of ek in sy laaste gedagtes opgekom het.

Ek haat die klank van my wekker, die frekwensie het al ‘n gat in my kop gedril. As ek dit hoor is ek sommer in ‘n kwaai bui. Dis nou hoe ek vandag opgestaan het, geirreteeerd. Ek sluimer na die badkamer en tap vir my water in. Ek sit ‘n ruk lank en staar vir die stoom wat van die water opkom. Dit lyk mooi so met die sonlig deur die venster. Ek vergeet na ‘n ruk om die water af te draai dat die bad lekker vol raak. Ek gaan maak eers vir my ‘n koppie koffie voor ek in die water klim. Ek le so lekker in die stomende water terwyl ek dink aan al die die dinge wat ek vandag moet doen. Ek haat eintlik my werk. Wel, seker nie haat nie maar ek word nie meer gestimuleer nie. Ek dink ek moet bietjie op vakansie gaan, miskien bietjie tyd gebruik om te reflekteer. My presentation is vandag, ek dink dit gaan goed gaan.

Terwyl ek in my kar klim stamp ek my kop kliphard, die trane loop, ek kan dit nie keer nie. Ek huil al die pad werk toe, miskien moet ek my hormoontelling laat toets, ek’s ooremosioneel deesdae. Ek parkeer my kar en voor ek uitklim kyk ek gou op my selfoon, geen missed calls, geen sms, niks. Kan dit nie glo nie, wat ‘n idoot.

No comments:

Post a Comment